Hoof Stories

Dié skaap is perd van ’n ander kleur

Jul 03 2008 10:58 AM
Jana Engelbrecht

CHRISTIANA. – Callaho’s For Joy, Suid-Afrika se kampioen-dresseerperd, is enig in sy soort.

Nie net omdat hy al herhaaldelik elke dresseer-kampioenskap in Suid-Afrika gewen het nie, maar ook omdat hy ’n baie besonderse vriendskap met Lambert die skaap aangeknoop het.

Dié welberese skaap was al by perde-kampioenskappe in élke provinsie en ondersteun sy boesemvriend met ’n geblêr terwyl dié aan kampioenskappe deelneem.

Mnr. Jaco Fourie, stalbestuurder, hoofafrigter asook ruiter van For Joy, het verduidelik hoe dié twee onwaarskynlike dierevriende geraak het.

“For Joy, ’n warmbloedperd wat vier jaar gelede uit Duitsland ingevoer is, het na ’n metgesel gesoek toe hy in Suid-Afrika aankom.

“In Duitsland word die perde meestal in hul stalle gehou. Hier loop hulle buite rond en sien ander perde. For Joy het gesukkel om aan te pas. Omdat hy so ’n waardevolle perd is, wou ons nie die kans waag om ’n ander perd by hom in sy stal te sit nie. Dit is toe dat ek die idee gekry het om Lambert by hom te sit.”

Lambert en For Joy het mekaar vir ’n paar dae skeef aangekyk voordat hulle boesemvriende geraak het.

“Lambert lewe vir For Joy. Hy dink hy is ’n perd. Ek dink as hy in die spieël moet kyk, sien hy ’n perd se gesig!”

For Joy, sowel SA kampioen as wêreldkampioen, is ook ’n uitstekende skouspringperd en neem op Olimpiese vlak deel.

“Dit is baie uniek vir ’n perd om in albei dissiplines tot die hoogste vlak te vorder. As teelhings is For Joy ook wêreldwyd gesog en is ook onder die 10%-top-teelhingste in die wêreld.”

For Joy oefen 45 minute per dag, ses dae van die week en word twee keer per dag geroskam.

Dié perd word 24 uur per dag bewaak.

Lambert, as For Joy se getroue metgesel, het ook al baie interessante en hoog aangeskrewe Olimpiese beoordelaars ontmoet.

“As For Joy sonder Lambert in sy stal is, weier hy om te eet.

Lambert reis selfs saam as For Joy moet stoetwerk doen in Johannesburg.”

Volksblad

<< Volksblad

Tuis | © Volksblad | Hulp | Terme
Kry meer op jou selfoon by 24.com