Jonathan Jansen
Dit het gebeur pas nadat ek my eerste verwelkoming aan die
eerstejaarstudente in opvoedkunde as dekaan gegee het.
Haastig op pad terug kantoor toe voordat ek na ’n
vergadering van uitvoerende amptenare op die universiteit se
hoofkampus moes gaan, en terwyl ek by my sekretaresse se kantoor
verbybeweeg, sien ek ’n man wat in ’n dreigende houding
oor haar staan.
Ek sien dadelik haar ongemak.
“Wat is fout,” vra ek my bekwame en sorgsame
sekretaresse, wat altyd baie bewus is daarvan dat ek my dagboek te
swaar laai, van die nimmereindigende beroep op die tyd en aandag
van die dekaan en, natuurlik, van die volgende vergadering.
Onwillig vertel sy my die man is baie kwaad en wil my spreek, al
is hy ingelig ek is op pad na ’n vergadering.
Iets het my gekeer om nie net weg te loop nie, om in te gryp,
daar waar die intimiderende man by die lessenaar van my saggeaarde
sekretaresse rondstaan.
Ek vra haar toe om solank te bel en my apologie vir ’n
moontlik laat aankoms by die vergadering aan te bied.
Ek neem die man na my kantoor, waar ek die deur toemaak.
Ek sou hom op sy plek sit.
Maar hy weier om te sit en, nog meer toornig as wat ek
vroeër waargeneem het, leun hy oor my lessenaar.
“Ek verkies om te staan,” sê hy.
Ek staan uit my stoel op, wys my vinger na hom en sê:
“Luister hier, dit is my kantoor hierdie, en in my kantoor
sê ek jou wat om te doen. So, sit of loop hier uit.”
Dit was ’n afgemete, selfversekerde en direkte boodskap:
een van geregverdigde woede, sou ek myself later vertel.
Tot my verbasing krimp die middeljarige wit man voor my oë,
gaan sit – en toe gebeur iets totaal onverwags.
Hy bars in trane uit en, snikkend minder as ’n meter van
my af, begin hy my die hartverskeurende verhaal van sy plattelandse
opvoeding vertel.
By die hoogtepunt van sy treurige verhaal, met neusvog wat teen
sy gesig afstroom, vertel hy my dit:
“Dekaan, ek moet erken, toe ek vanoggend deur die kampus
se hekke gekom het, was ek ’n rassis.
“Ek is ’n boer van Vereeniging, en soos ek
grootgeword het, het ek mense soos jy gehaat, ek moet eerlik wees.
Ek haat nog steeds swart mense, dis maar net hoe ek geleer is.
“Maar toe ek vanoggend na jou luister soos jy met ons, die
eerstejaars se ouers, gepraat het, en na die manier waarop jy my
dogter welkom laat voel het op jou kampus, het ek besef hoe
verkeerd ek was.
“Ek worstel nog steeds met hierdie dinge, maar ek wil jou
vertel dat ek jammer is oor wat ek glo, en jou bedank dat jy my
dogter so goed daaroor laat voel om hier te wees.”
Dit is moeilik om die emosionele skuif van woede na empatie in
so ’n kort tydjie te maak, maar ek het skielik verstaan waar
die wortels van sy aggressie vroeër gelê het.
Hier is ’n man wat met sy eie gewete worstel, wat die moed
bymekaar skraap om ’n swart man vir die eerste keer van sy
rassisme te vertel en dan moet hy uitvind daar is nie tyd vir hom
om dit te doen nie.
Hierdie dwingende maar moeilike impuls – om te vertel
– waaraan hy daar en dan moes uiting gee of dit gebeur dalk
nie weer nie, het hom na my kantoor gedwing en hy moes dit van sy
hart af kry.
En om die verhaal te kan vertel voordat hy in trane uitbars, was
die masker van aggressie die enigste manier wat hy ken om daar te
kom.
Sedert daardie dag vra ek myself dikwels hierdie vraag: Wat
skuil agter die aggressie van die vaders, hierdie neiging onder
mans tot selfontbranding (spontaneous combustion) wanneer hulle
deur iets uitgedaag word of voor nuwe en verontrustende situasies
te staan kom?
Is dit bloot aangeleerde rassisme; die manier waarop wit
heerskappy uitgedruk word; die wit manlike ego se
verdedigingsmeganisme aan die werk?
Daar is by my geen twyfel dat daar iewers in hierdie
kompleksiteit ook ’n vertroebelde siel, ’n skreiende
skaamte en onverwerkte skuldgevoel skuil nie. Aggressie is dikwels
die masker vir iets anders, soos wat ek keer op keer by die wit
ouers van my studente waargeneem het.
- Uit Jansen se nuwe boek, Knowledge in the Blood: Confronting
race? and the apartheid past. Ookbeskikbaar van UCT/Juta
Press.
Beeld |