Beeld Wereld

'Afrika-armoede is groter krisis as aardverhitting'

Jul 09 2009 08:57 PM

André le Roux

L’Aquila (Italië). – “Afrika se stryd teen armoede oorheers alle ander prioriteite – ook die bekamping van aardverhitting,” het me. Buyelwa Sonjica, die minister van waterwese en die omgewing, gister hier in ’n onderhoud gesê.

Sonjica was ontevrede met wat sy bestempel het as die traagheid van die G8-leiers by hul beraad hier om hul volle verantwoordelikheid vir die bekamping van aardverhitting te aanvaar.

Sy is ook besorg daaroor dat die ontwikkelde lande nie die “gedeelde belange van arm lande in ag neem wanneer hulle daarop aandring dat ontwikkelde lande hulle herverbind tot stappe teen klimaatsverandering nie.”

Die stryd tussen die sogenaamde groep van vyf ontwikkelende lande – Suid-Afrika, China, Brasilië, Indië en Meksiko – en die G8 oor klimaatsverandering het samesprekings gister hier oorheers.

Die ontwikkelende lande het weer hul voorstel vir bespreking aangebied.

Dié plan, wat deur Suid-Afrika onderskryf word, hou in:

  • dat die ontwikkelde lande die uitset van hul koolstofgasse teen 2050 met 80% tot 95% verminder;
  • dat tussentydse, wettig-afdwingbare teikens op pad na 2050 gestel word; (Die eerste teiken van 40% van die afname moet teen 2020 gehaal word, het Sonjica gesê. Die G8 weier om dit te aanvaar.) en
  • dat ontwikkelde lande ontwikkelende lande se eie program om koolstofgasse te bekamp finansier. (Die G8 weier dit ook.)

Daarteenoor sê die vyf ontwikkelende lande dat hulle bereid is om hul uitsette van koolstofgasse ook teen 2050 met 80% te beperk, mits ontwikkelde lande hulle geldelik help om dit te doen

Die leiers van die 17 grootste ekonomieë het dié knelpunte gisteraand verder bespreek. Daar is gehoop dat ’n kompromis bereik kan word.

’n Woordvoerder van pres. Jacob Zuma, wat deelgeneem het aan dié debat, het gesê Zuma is tevrede met die “merkwaardige eensgesindheid oor hierdie en al die ander vraagstukke voor die G8.”

Mnr. Steyn Speed, die woordvoerder, het gesê Zuma se bydrae tot die beraadslagings is om namens Suid-Afrika te praat. “Hy doen dit egter binne die konteks van die Afrika-agenda waaroor, onder meer by die afgelope beraad van die Afrika-Unie (AU) in Sirte, Libië, ooreengekom is.”

Hoewel die leiers van Ethiopië, Libië, Angola en Egipte hier teenwoordig is, is Suid-Afrika die enigste Afrika-land wat formeel binne die G8-gesprek betrek is.

Zuma het gister ook bilaterale samesprekings gevoer met mnr. Ban Ki-moon, die sekretaris-generaal van die VN en mnr. Gordon Brown, die Britste premier.

Beeld

<< Beeld Wereld

Tuis | © Beeld | Hulp | Terme
Kry meer op jou selfoon by 24.com