Die Burger Vermaak

Vermaak

Inspirasie uit wisselwerking

Feb 19 2010 05:47 AM

Laetitia Pople

 Kaapstad

’n Eietydse Kaapse hiphopera wat die storie van Afrikaans in die 1600’s gaan haal, ’n multidissiplinêre gemeenskaps­opera wat in taxi’s afspeel en geskep is deur 20 jong studente van Soweto, asook gereelde besoeke van Nederland se voorste klassiekemusici, jazzers en teaterlui om hul vaardighede hier in te ploeg, is die jongste wisselwerking tussen Suid-Afrika en Nederland.

Die omvangryke projek staan as Interaksie SA-NL bekend en het eintlik informeel verlede jaar al begin met die sterk Nederlandse betrokkenheid by die KKNK. Dit behels benewens die gereelde besoek van Nederlandse musiek-, dans- en teatergroepe aan Suid-Afrika ook ’n uitgebreide program van slypskole, lesings en meesterklasse deur Nederlandse kunstenaars. Die kunstenaars gaan met jong Suid-Afrikaanse talent werk, maar ook met Suid-Afrika se voorste kunstenaars en geselskappe om grensverskuiwende produksies die lig te laat sien.

Vennote sluit onder meer in die Melody-musieksentrum in Soweto, Mike van Graan, die Ipelegeng-gemeenskapsentrum in Soweto, die Markteater en die Kaapse Filharmoniese Orkes.

Die doel van die projek is die daarstelling van innoverende teater-, dans- en musikale produksies wat deur die Suid-Afrikaanse kultuur geïnspireer is.

Die produksies sal op verskeie feeste, sale en teaters in Suid-Afrika opgevoer word, waaronder op Infecting the City, KKNK, die Nasionale Kunstefees in Grahamstad, opvoerings in die Baxter-teater, die Markteater in ­Johannesburg, die Voorkamerfees in Darling en die Oppikoppi-fees.

  • Die eerste groot ko-produksie is die hiphopera Afrikaaps wat van 1 tot 4 April op die KKNK en van 7 tot 25 April in die Baxter-teater in Kaapstad opgevoer word.


Die produksie, wat die wortels van Afrikaans naspeur, smee die talente van die hiphop-digter en kunstenaar Jitsvinger, die digter Blaq Pearl en die jazzpianis Kyle Sheperd saam. Dit sal afspeel in ’n digitale landskap en die musiekstyle en genres sal oorkruis. Benewens hiphop sal Kaapse style soos ghoema en die musiek van die Kaapse Klopse ook gehoor word.

Die dramaturg is Aryan Kaganof en die regisseur is Catherine Henegan, medestigter van The Glasshouse in Amsterdam.

  • Die Nederlandse kunstenaar Ibrahim Quraishi neem deel aan die produksies Meet Market, wat nog môre om 12:00 as deel van die openbare kunsfees Infecting the City opgevoer word.


  • Once Upon a Time the World was Round is ’n gemeenskaps­opera wat sy première op die Nasionale kunstefees in Grahamstad sal hê en volgende jaar by die internasionale Yo! Operafees in Utrecht opgevoer gaan word. Toevallige ontmoetings in ’n minibustaxi en die interaksie tussen passasiers is die verhaallyn van die opera. Die opera is ontwikkel uit teater- en musiekslypskole.


  • Daar is ook noue samewerking op jazzterrein met die besoek van die Nederlandse musikante Peter Guidi, Eric Vloeimans en David de Marez Oyens, en samewerking wat klassieke en kontemporêre musiek betref, met in die vooruitsig besoeke van die akkordion-duo Toeac, die stemensemble Wishful Singing, Utrecht se Barokensemble, die pianis Ralph van Raat en die dirigente Arjan Tien en ­Conrad van Alphen. Wat popmusiek betref is daar reeds nou samewerking tussen die Oppikoppi-fees en Nederland.


Besoek ook

>> Email Story

News Search