Volksblad

Hoof Stories

Bekende afslaer verdink van bedrog

Apr 02 2009 02:50 AM

André Botha

KURUMAN. – ’n Bekende afslaer van Kuruman is gister hier op borgtog van R5 000 vrygelaat nadat hy vlugtig in die hof op bedrogklagte van sowat R1,9 miljoen verskyn het.

Mnr. Pieter Grové, wat vir Noord-Kaap Lewendehawe gewerk het, het na bewering die bedrog met veilingtransaksies tussen Oktober 2008 en Januarie 2009 gepleeg. Die eienaar van Noord-Kaap Lewendehawe is mnr. Hennie Booysen, bekende sakeman en boer van Kuruman.

Booysen het die klagte teen Grové ingedien en ook ’n private speurder van Pretoria, mnr. Flip van Huyssteen, aangestel om die transaksies te ondersoek.

Kapt. Johan Strydom van die polisie se handelstak in Kimberley is die ondersoekbeampte.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 5 Junie uitgestel, wanneer dit vir verhoor uitgestel sal word.

Grové het gister kort ná 12:00 vergesel deur sy prokureur, mnr. J.A. Kramer van Bloemfontein, by die hof aangekom.

Van Huyssteen sê fakture wat deur Grové uitgereik is in verband met transaksies wat in dié tydperk aangegaan is, is deur forensiese ouditeure nagegaan. Die ondersoek het op die tydperk van Oktober 2008 tot Januarie 2009 gefokus.

Van Huyssteen het gister groot lof vir die handelstak en in die besonder Strydom se professionele hantering van die ondersoek gehad.

Volksblad
>> Email Story

News Search